Ontdek jou emosionele DNA

Ontdek jou emosionele DNA


4.1 Inleiding
 

In die voorafgaande inligting het LOST jou ideale grondslagjare bespreek as die bloudruk vir jou lewe, maar as ons in so ‘n perfekte wêreld geleef het, het LOST nooit sy ontstaan gehad nie. Indien nodig kan jy nou begin met die ontwikkeling van ‘n onvoorwaardelike verhoudings leefstyl as individu, wat ookal jou grondslagjare of lewenservaring was. In jou strewe na ‘n onvoorwaardelike verhoudings leefstyl is daar drie baie belangrike lewensbeginsels wat jy moet identifiseer, voordat jy in staat sal wees om jou verhoudings te balanseer.
 

4.2 Disfunksionele familie sisteem
 

Gesag (Model 1 - 3)

‘n Funksionele gesinsverhouding is die belangrikste verhouding waarin jy leer hoe om jou selfwaarde te balanseer. Kom ons kyk eerste na van die belangrikste sosiale samestellings in ‘n funksionele gesin. Een van ons basiese behoeftes as gesin is grense. Sonder grense voel ons onveilig by ons ouer(s). Funksionele ouerskap vra dat’n ouer die spieëlbeeld van sy reëls leef en daardeur stabiele emosies verseker in die huishouding. Hierdie leefstyl is belangrik vir ten minste die eerste vyftien jaar van ‘n kind se lewe. Dit verseker ‘n persoonlike band van vertroue en eenheid tussen ouer en kind. Funksionele ouerskap het reëls wat buigsaam is in die konteks van ‘n gebalanseerde huishouding. Die gesinslede groei deur verskillende fases van ontwikkeling, waarby grense (reëls) aangepas moet word om nie die band van vertroue en eenheid te benadeel nie. Dit bevestig die belangrikheid van grense, goeie oordeelkundige selfbestuur en keuse bestuur in die gesin. ‘n Kind het die behoefte om voortdurend op ouers te kan staatmaak vir balans.

Kom ons kyk tweedens na die belangrikste sosiale samestellings van ‘n disfunksionele gesin. Sonder die gebalanseerde verhoudingsgrense van vertroue en eenheid voel ‘n kind waardeloos. Hierdie verwarring ontstaan indien ‘n kind reeds as kleuter ontneem word van emosionele bestuur en sy doelgerigte wil. ‘n Gesinswanbalans ontstaan as gevolg van:
 

  • onbetroubare en grenslose ouerskap,
  • die traumatiese ervaring van verwerping a.g.v. beheer,
  • negatiewe en afbrekende beelde soos verbale of fisiese geweld, waaraan die gesin blootgestel word.
     

Disfunksionele ouerskap ontstaan weens die emosionele verwerping wat die ouer self as kind ervaar het. Dit het veroorsaak dat die ouer self nie emosioneel volwassenheid bereik het op een of meer verhoudingsareas nie. Die ouer is as te ware ‘n volwassene in ouderdom, maar steeds emosioneel onvolwasse/ongebalanseerd in sekere areas. Sodra die kind emosie toon, identifiseer die ouer met sy eie onverwerkte pyn en verwerping as kind en tree daarvolgens op. Disfunksionele ouerskap veroorsaak dat die huishouding daarop ingestel is om eerder die emosionele wanbalans te beheer deur verdedigingspatrone aan te leer, as om emosionele behoeftes onvoorwaardelik aan te spreek. Disfunksionele ouerskap genereer oor tyd outomatiese en onbewustelike verdedigingspatrone in die huishouding. Die voortdurende verontagsaming van ‘n kind se emosionele behoeftes deur die ouer(s) weens ‘n voorkeur aan verdedigingspatrone, veroorsaak ook emosionele gevangeneskap by die kind. Kom ons kyk na ‘n paar karaktereienskappe en reëls van disfunksionele ouerskap:

  1. Beheer - die ouer beheer alle interaksies, gevoelens en persoonlike gedrag van die gesin.
  2. Perfeksionisme - die ouer is altyd reg in alles wat hy/sy doen.
  3. Blameer - sodra beheer nie meer die gewensde uitwerking het nie, dan leef die ouer of in ontkenning, of blameer die gesinslede
  4. Weiering - die ouer weerhou die gesin van onafhanklike ontwikkeling soos
    1. om self te dink en interpeteer,
    2. om eie gevoelens te toon of uit te spreek,
    3. om iets te wil hê of om eie keuses te maak,
    4. die vryheid om self waar te neem,
    5. die vryheid om verbeelding te gebruik.
  5. "Luister reël" - die ouer is so besig met eie ongebalanseerde emosies, dat daar nie tyd is om na die gesin se behoeftes te luister nie.
  6. "Geen foute reël" - die ouer verberg sy/haar foute deur die gesinslede te blameer vir hulle foute.
  7. Onbetroubaarheid - weens onvoorspelbare en onbetroubare optrede van die ouer, ontwikkel niemand in die gesin ‘n onvoorwaardelike verhoudings leefstyl nie.

Ons moet nie uit die oog verloor dat indien ‘n ouer uit die goedheid van sy hart te veel wil doen vir ‘n kind, dit dieselfde gevolg het as ‘n disfunksionele huishouding. Die kind leer dan selde van emosionele bestuur en om sy doelgerigte wil te bestuur, m.a.w. hy/sy ontwikkel nie ‘n gebalanseerde selfwaarde nie.

Die resultaat van ‘n disfunksionele huishouding is wantroue as gevolg van ‘n gebrek aan selfwaarde en veroorsaak emosionele eensaamheid by gesinslede. Die gesinslede voel nie net waardeloos en eensaam nie, maar ook verwerp. Verwerping is die kernwapen waarmee grense (reëls) beskadig word in ‘n huishouding en dwing gesinslede tot emosionele gevangeneskap - ‘n wêreld wat uitgeken word deur eensaamheid tussen baie mense. In ‘n disfunksionele familie word die kind se grootste behoefte, nl. om onvoorwaardelik te behoort, selde aangespreek.
 

Verhouding (Model 5 - 6.5)
 

Deur uitgelewer te wees aan emosionele gevangeneskap veroorsaak intense innerlike konflik by jou as individu. Jou moontlike innerlike konflik van verwerping verdiep jou geestelike, emosionele en liggaamlike behoeftes. Jy het aangebore gevoelsinhoud (emosies) soos skaamte, opgewondenheid, ontsteltenis, hartseer, vrees of vererg, vreugde, onaangenaamheid (soos reuk) of walging. Dit is baie belangrik om nie hierdie aangebore gevoelsinhoud (emosies) te onderdruk nie. Gesonde gevoelsinhoud veroorsaak dat alle verhoudings rondom jou saak maak. Sodra jou gevoelsinhoud, of dele daarvan, emosioneel gevange is, dan maak net jou selfsugtige begeertes saak in die betrokke verhoudingsareas.

Indien jy dan vernederende emosies op ‘n bepaalde verhoudingsarea (geestelik, emosioneel, liggaamlik, sosiaal en/of finansieel) ervaar in jou persoonlike verhoudings, kan jy jou aangeleerde verdedigingspatrone gebruik deur doelbewus jou emosie(s) te onderdruk en aan iets anders te dink, omdat denke jou van jou emosies kan skei. Die gevaar is egter dat jy jouself blootstel aan die karaktereienskappe van ‘n disfunksionele verhouding (sien beheer, perfeksionisme, blameer, weiering, "luister reel", "geen foute reel" en onbetroubaarheid onder 4.2 gesag), in ‘n poging om jou emosies van jou denke te probeer skei. Indien jy op ‘n gereelde basis sulke voorwaardelike verdedigingspatrone gebruik, ontwikkel ‘n onbetroubare self (jy kan nie jou eie oordeel vertrou nie). ‘n Onbetroubare self vind dit moeilik om intimiteit te ervaar in enige verhouding omdat selfwaarde ontbreek.

‘n Gebrek aan selfwaarde veroorsaak dat jou onbetroubare self ‘n radikale verskil leef van jou identiteit (wie jy glo jy is), m.a.w. jy leef ‘n karakter in jou verhoudings wat verskil van die beeld wat jy van jouself het. Jy leef dus ‘n vals self. Elke vorm van vernederende emosies wat jy ervaar, beïnvloed dan nie net jou selfwaarde nie, maar ook jou vermoë om jouself te kan vertrou. Oor ‘n lang termyn veroorsaak jou onbetroubare self ‘n verbrokkeling van jou geloofwaardigheid teenoor jouself. Hierdie emosionele leemtes veroorsaak dan dat jy kwesbaar is om misbruik te word tot voordeel van ander partye se selfsugtige begeertes, omdat jy afhanklik raak van hulle opinies, invloed en kritiek vir aanvaarding en poog om só jou selfwaarde te balanseer. Jou gevoel van vernedering kan selfs daartoe lei dat jou emosionele behoeftes later registreer as ‘n seksuele behoefte. Sodra jy angs, onsekerheid of behoeftig voel weens ‘n gebrek aan selfwaarde , dan kan jou emosies registreer deur seksueel behoeftig te voel. Daardeur hoop jy om jou grootste behoefte te vervul en dit is om onvoorwaardelik te behoort. Ongelukkig verdiep jou emosionele gevangeneskap as gevolg van jou emosionele afhanklikheid van die ander individu in jou poging om jou selfwaarde te balanseer. Emosionele gevangeneskap raak so ‘n genadelose lewensiklus wat homself oor en oor herhaal.

Onthou - selfwaarde se grondslag word gelê tot en met puberteit. Indien jou selfwaarde verwarrend ontwikkel het tot puberteit, sal jou vermoë om intimiteit te ervaar as volwassene daaronder lei en dit kan jou depressief laat voel. Jy leef slegs vry van depressie indien jou selfwaarde gebaseer is op die geloofwaardigheid van jou gevoelsinhoud (emosies). Intimiteit is ‘n emosionele ervaring van onvoorwaardelike vertroue in jouself in enige verhouding. Die kern van ‘n onvoorwaardelike verhouding met jouself en ander is selfversekering op alle verhoudingsareas, m.a.w sodat jy jou eie oordeel daarin kan vertrou.
 

Identiteit (Model 7 - 8 en 14)
 

Ons laat net toe dat mense ons misbruik indien ons ‘n gebrek aan selfwaarde ervaar en dit lei tot ons onvermoë om op een of meer verhoudingsarea met selfversekering te identifiseer. ‘n Gebalanseerde selfwaarde is nodig sodat ons karakterontwikkeling na emosionele volwassenheid balanseer. Die belangrikste emosie waarmee ons ons selfwaarde balanseer, is skaamte. Skaamte is die hartklop van ons emosies en die kern emosie wat alle ander emosies beïnvloed. Gesonde skaamte vorm ons denke, dui rigting aan vir ons selfwaarde en wys ons beperkinge uit soos bv. om nie te hard te lag of skree in ‘n geselskap nie. Skaamte balanseer ook ons emosies deur ‘n gebalanseerde uitkyk na seksualiteit bv. ons kleredrag en respek vir ons liggaam. Skaamte gee ons die reg om menswaardig te voel en gesonde grense te bepaal. Sonder ‘n gesonde leefstyl van skaamte is morele en etiese verantwoordelikheid onbereikbaar.

Indien ons menswaardigheid deurdring word met kru en afbrekende taalgebruik, of denkbeeldige en visuele beelde van vernedering, dan verander ‘n gebalanseerde beeld van skaamte na ‘n verwerpte beeld van skande. Skaamte is dan nie meer ‘n eksterne emosionele ervaring wat ons beperkinge aandui nie, maar word vervang met ‘n grenslose gevoel van interne skande. Skande is ‘n pynlike ervaring wat veroorsaak dat ons ons emosioneel ontrek van ander en onsself, en sodoende verval in ‘n gat van emosionele eensaamheid. Die gevaar is dat skande ons gesonde gevoel van skaamte gevange neem en omdat skaamte die hartklop is van ons emosies, ervaar ons emosionele gevangeneskap.

Emosionele gevangeneskap is wanneer jou aangebore emosies beheer word deur die pyn en vernedering van skande - skande word jou identiteit (wie jy glo jy is), m.a.w. die vernedering van skande raak die kern van jou bestaan. Jy glo jy is waardeloos in jou verhoudings omdat die grense van jou menswaardigheid verontagsaam is.
 

Ongebalanseerde karakter (Model 15 - 19)
 

Indien ons identiteit deurdronge is met skande, skep dit ‘n enorme uitdaging vir gesonde karakterontwikkeling. Individue wat op een of meer verhoudingsarea deurdring is met skande stagneer emosioneel in daardie area. Hulle gebruik hul aangebore gevoelsinhoud (emosies) soos skaamte, opgewondenheid, onsteltenis, hartseer, vrees en vererg, vreugde, onaangenaamheid (soos reuk) of walging om eerder hul skande te verberg, bv. die altyd vriendelike vrou of altyd kwaai man. Onthou skaamte is ‘n emosie, maar skande is ‘n oortuiging. ‘n Toestand van skande veroorsaak dat ‘n individu sy aangebore emosies gebruik vir ‘n beskermende, geheimsinnige en verdedigende leefstyl (‘n voorgee leefstyl). Hierdie leefstyl bestaan uit twee kategorieë. Die kategorie van bo-menslikheid (perfek en heersend) en nie menswaardigheid (verloor belangstelling in die lewe deur verslawende gewoontes). Die leefstyl van bo-menslikheid en nie menswaardigheid word ondersteun deur een of meer ongesonde karaktereienskappe soos:

  1. Perfeksionisme - gedryf deur geld, mag en/of voorkoms. Hierdie karaktereienskap is afhanklik van bewonderaars om sy grootsheid te ondersteun, maar diepliggend is die individu emosioneel leeg en gevul met jaloesie en woede.
     
  2. Fisieke/verbale misbruik – waar die oortreder ook eens magteloos en vernederd was deur fisieke/verbale misbruik. Die oortreder neem ‘n magsposisie in en onderdruk sy slagoffer sodat die slagoffer ook die oortreder se eens magteloosheid en vernedering kan ervaar. Vir daardie oomblik voel die oortreder vry van sy skande, maar agterna vernederd omdat skande weer skande gebaar het.
     
  3. Seksuele misbruik: (a) die oortreder herleef sy seksuele of fisieke vernedering as ‘n oorwinning deur die vernedering van sy slagoffer. (b) Seksuele stimulasie of orgasme gee die oortreder ‘n omvattende genot van mag en kan selfs die plek inneem van enige ander ongebalanseerde emosie.
     
  4. Verdierliking - die mens is die enigste wese wat primêr sy emosie van binne af leef na die buitewêreld. Alle ander wesens soos diere reageer emosioneel volgens dit wat hulle buite hulself waarneem om hul selfwaarde te bepaal. Skande veroorsaak dat ons as mens ook gryp na dinge buite onsself (soos: posisie, materiële dinge, voorkoms ens.) om daarvolgens ons eie selfwaarde te bepaal. Skande kyk vir geluk en selfwaarde aan die buitekant, omdat die skande aan die binnekant tekortkominge het en defektief is. Self-gegenereerde skande is absoluut sieldodend. Dit beteken die individu leef in emosionele gevangeneskap en is verdoem tot emosionele slawerny, weg van sy/haar grootste behoefte om onvoorwaardelik te behoort.
  5. Skande as geestelike bankrotskap - die probleem van skande is uiteindelik ‘n geestelike probleem. Geestelikheid is gegrond in jou grootste behoefte na waardigheid en dit is om onvoorwaardelik te behoort.
     
  6. Fantasie band - ontstaan by ‘n persoon wat as kind emosioneel verwaarloos is deur sy ouer(s). ‘n Fantasie leefstyl het nooit ‘n werklike konneksie met enige persoon deur ‘n gebalanseerde verhouding nie. Intimiteit ontbreek weens die gebrek aan selfwaarde en die individu se onvermoë om emosioneel geloofwaardig op te tree teenoor hom/haarself. So ‘n individu is beskaamd tot in sy/haar kern en leef perfeksionisties in sy/haar gedagtegang, anders verval hy/sy in depressie. Onthou: jy is slegs vry van depressie indien jou selfwaarde gebasseer is op die geloofwaardigheid van jou gevoelsinhoud (emosies).
     

Onthou
 

Die kern van ‘n gebalanseerde verhouding is vertroue en eenheid. Elke karaktereienskap van ‘n valse leefstyl is gegrond in selfsug en lei na emosionele eensaamheid. Vir individue met emosioneel ongebalanseerde karaktereienskappe lê selfwaarde aan die buitekant (posisie, materiële dinge, voorkoms ens.). Sonder die geloofwaardigheid van vertroue en eenheid is ‘n onvoorwaardelike verhoudings leefstyl van intimiteit nie haalbaar nie. Selfsugtige karaktereienskappe is die perfekte broeiplek vir ‘n disfunksionele familie sisteem.
 

Gebalanseerde karakter (Model 9 - 13)
 

‘n Emosioneel gebalanseerde karakter word gelei deur jou identiteit (wie jy glo jy is). Identiteit word gelei deur jou selfwaarde wat gevorm is in ‘n gebalanseerde ouer/kind verhouding van vertroue en eenheid. Daarom gebruik ‘n individu met emosioneel gebalanseerde karaktereienskappe nie energie op doelwitte wat hy nie kan bereik, of energie in omstandighede wat hy nie kan verander nie. Die lewenslange uitdaging is om ons selfsugtige natuur te onderwerp aan ‘n onvoorwaardelike verhouding leefstyl van vertroue en eenheid. Daardeur leef ons onvoorwaardelik van binne onsself met ‘n band van vertroue en selfversekering na die buitewêreld. LOST het ten doel om jou te help ontwikkel, in enige verhoudingsarea, na ‘n emosioneel volwasse karakter, indien nodig. Emosionele volwassenheid is gegrond in ‘n gebalanseerde identiteit (wie jy glo jy is). Daardeur leer jy om onvoorwaardelik verantwoordelikheid te aanvaar en verhoudings te balanseer in jou lewe. Onthou sommige mense het dalk minder emosionele skade as ander, maar elke individu werk elke dag aan die uitdaging om emosionele skade te bestuur.
 

Hoe bepaal ek ‘n emosioneel gebalanseerde karakter?
 

‘n Emosioneel gebalanseerde karakter word nie emosioneel beheer op enige verhoudingsarea deur negatiewe en disfunksionele verhouding sisteme nie. Dit is normaal dat jy emosioneel geraak word deur disfunksionele verhoudings, maar ‘n emosioneel gebalanseerde karakter verhoed dat jy emosioneel beheer word. ‘n Emosioneel gebalanseerde karakter word ondersteun deur emosionele onafhanklikheid, wat die voordeel het om emosionele leemtes en tekortkominge in ‘n oortreder raak te sien. Emosionele onafhanklikheid verhoed dat ons die negatiewe en disfunksionele optrede in die verhouding verpersoonlik. Elke emosioneel volwasse besluit wat jy neem, spreek jou behoefte aan om onvoorwaardelik te behoort, en dit maak jou stap vir stap vry van emosionele gevangeneskap.
 

4.3 Geheue
 

Jou geheue is die tweede belangrikste lewensbeginsel waarin jou selfwaarde balanseer. Elke gedagte wat jy koester, goed of sleg, word in jou geheue gestoor. Hoe meer jy onvoorwaardelike gedagtes koester wat lei tot voordeel van jou verhoudings, hoe meer gebalanseerd sal jou verhoudings ontwikkel. Wat jy dink en praat, is wat jy word. Dit is baie belangrik om dit te oordink. Geheue in konteks van LOST word gevorm deur of bestuur of beheer van verhoudings. Kom ons kyk hoe vorm geheue in ‘n verhouding wat bestuur is deur ‘n ouer(s) gedurende die grondslagjare: (1) ‘n aksie van bestuur vind plaas deur ‘n ouer. (2) die kind ervaar ‘n gevoel van waardigheid en (3) koppel een of meer aangebore emosies daaraan. (4) Die resultaat word gestoor in jou onderbewussyn. Dieselfde proses herhaal homself indien ‘n ouer jou beheer gedurende grondslagjare, (1) ‘n aksie van beheer vind plaas deur ‘n ouer, (2) die kind ervaar ‘n gevoel van minderwaardigheid en (3) koppel dit aan ‘n negatiewe emosie. (4) Die resultaat word gestoor in jou onderbewussyn. Indien jy selfs jare daarna weer gekonfronteer word met dieselfde aksie van beheer, dan roep jou geheue die gevoel van minderwaardigheid op wat in jou onderbewussyn gestoor is en jy ervaar weer die negatiewe emosie wat daaraan gekoppel is. Indien jy as volwassene nie selfversekerd genoeg is om die selfsugtige optrede van jou ouer(s) en ander individue te identifiseer nie, verpersoonlik jy elke resultaat wat ‘n aksie uit jou onderbewussyn oproep en daardeur kwyn jou selfwaarde.

Jou enigste oplossing vir emosionele oorlewing is oënskynlik om jou verdedigingspatrone te gebruik, in ‘n poging om jou onverwerkte emosies te versmoor. Jy kies om’n voorwaardelike karakter leefstyl teenoor betrokke individue te leef, maar verloor perspektief van die feit dat ‘n voorwaardelike karakter ‘n leeftyd (verval datum) het, m.a.w. mense sal kort voor lank deur die front van jou voorwaardelike karakter begin sien. Jou enigste oplossing dan is om nog ‘n valse beeld (met ‘n verval datum) van jouself bo-oor jou bestaande front te bou. Jy loop egter die gevaar om oor tyd totaal perspektief te verloor van jou onafhanklike emosionele DNA, m.a.w. die geloofwaardigheid van jou emosionele DNA. Onthou, ons het gesê: emosionele gevangeneskap raak’n genadelose lewensiklus wat homself oor en oor herhaal. Die realiteit is dat ons nie die wêreld met sy aanslae kan verander nie maar wel onsself, en daarom begin die herstel van emosionele gevangeneskap by jou as individu!!!

Die aanvalle van beheer wat jy ervaar van individue met gebrek aan selfwaarde is nie op jou persoonlik gemik nie. Hulle selfsugtige optredes is die gevolg van identiteitlose oortuigings wat sulke individue dag en nag bepeins, omdat hulle nie weet hoe om te identifiseer met verhoudings oplossings in daardie spesifieke area nie.

‘n Verhoudingswanbalans word veroorsaak as gevolg van ‘n gebrek aan selfwaarde. Miskien het jy verkeerde verhoudingskeuses geneem in een of meer verhoudingsarea in ‘n tydperk wat jy opsoek was na selfwaarde. Miskien het ‘n individu met’n gebrek aan selfwaarde, onsensitiewe verhoudingskeuses teenoor jou geneem in ‘n tydperk wat jy te weerloos was om jouself te beskerm. Indien jy in staat is om te identifiseer watter selfsugtige optredes jou verhoed het om ‘n gebalanseerde verhoudings leefstyl te ontwikkel, is jou belangrikste besluit om te aanvaar wat gebeur het, want jy kan nie die verlede verander nie. Een van twee dinge kan gebeur:
 

(a) jy vergewe jouself of die individu vir die selfsugtige verhoudingskeuses en begin die pad na herstel vandag, of

(b) jy weier om jouself of die individu te vergewe, en laat toe dat jou emosionele gevangeneskap joú beheer vir ‘n leeftyd.
 

Onthou
 

  • Jy moet aanvaar wat gebeur het in jou verlede, voordat jy in staat sal wees om die resultaat van jou geheue te balanseer, waar nodig.
  • Vergifnis is ‘n onmiddelike aksie maar vertroue herstel oor tyd, indien wel.
  • Jou emosionele afhanklikheid van ‘n ander individu sal jou emosionele leemte vergroot en jou blootstel om moontlik weer misbruik te word.
     

4.4 Tyd
 

Tyd is die derde belangrikste lewensbeginsel waarin jou selfwaarde balanseer. Tyd is baie belangrik in die genesing van jou emosionele skade wat veroorsaak is deur disfunksionele verhoudings. Dit neem tyd om al die skandelike gebeure te vervang met ‘n funksionele verhoudings leefstyl. Jy moet die nodige tyd gebruik om jou persoonlike verhoudings te balanseer sodat jou emosioneel volwasse karakter (vry van emosionele gevangeneskap) kan ontwikkel waar nodig, en sodoende ‘n beter toekoms vir jou nageslag. Dit is sekerlik een van die belangrikste redes hoekom ons lewe: om’n lewe na te laat wat ‘n erfenis is vir ons nageslag aangaande funksionele verhoudings, en nie ‘n selfsugtige bestaan wat eendag saam met ons sterf nie.
 

Onthou
 

  • Alles wat jy identifiseer as disfunksioneel in jou verhoudings, het ontwikkel oor tyd, en sal tyd neem om te genees binne ‘n gebalanseerde visie.
     

4.5 Visie
 

Die doel van ‘n gebalanseerde visie is om risiko te bepaal in die voordele en nadele van besluitneming en om perspektief daarvan te behou. Gelykstaande aan perspektief is langtermyn energie beplanning en hoe om elke verhoudingsarea te balanseer in tyd. Visie is tweedoelig: (1) beplan jou geestelike, emosionele, liggaamlike, sosiale en finansiële toekoms, en (2) beplan hoe om jou verhoudingsareas te herstel van die emosionele skade wat jou toekomsvisie beperk.

LOST se verhoudingstaal is ‘n praktiese riglyn om jou verhoudingsvisie onvoorwaardelik te balanseer. Visie is nodig sodat ons doeltreffend kan wees in dissipline. (1)Dissipline is die band van vertroue wat ek met myself sluit in een of meer verhoudingsareas. Hierdie band van vertroue met myself is gevestig deur die verhouding van bestuur wat my ouer(s) gedurende my grondslagjare vir my geleef het. Gedissiplineerdheid in my visie verseker (2)sekuriteit, m.a.w. ek kan my eie oordeel vertrou in my verhoudings besluitneming. Sekuriteit in my visie lei tot (3)respek vir my persoonlike verhoudings en is gebore uit selfrespek. Selfrespek maak dit moeiteloos om (4)verantwoordelikheid te aanvaar vir my verhoudings. Let op na LOST se verhoudingstaal. (1)Dissipline is ‘n band van vertroue met myself, (2)sekuriteit beteken ek kan my oordeel vertrou, (3)respek word gebore uit selfrespek, m.a.w. (4)verantwoordelikheid in my persoonlike verhoudings begin by my as individu.

Die teendeel is ook waar. ‘n Gebrekkige verhoudingstaal ontwikkel weens ‘n verhouding van beheer wat my ouer(s) gedurende my grondslagjare geleef het. Indien ek leef met ‘n gebrek aan visie, weens ‘n gebrek aan selfwaarde, dan leef ek (1)ongedissiplineerd in ‘n band van wantroue met myself in een of meer verhoudingsareas. Swak dissipline laat my (2)onveilig voel, wat ondersteun word deur vrees (ek kan nie my eie oordeel vertou nie). ‘n Gevoel van vrees lei na (3)disrespek, wat gebore is uit rebellie teenoor my persoonlike verhoudings. Rebellie beteken ek maak my eie reëls en kompeteer met bestaande reëls van die verhouding. Disrespek, gebore uit rebellie, veroorsaak dat ek eerder my persoonlike verhoudings (4)blameer vir my gebrek aan selfwaarde, voordat ek verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Let op na die verhoudingstaal waarteen LOST waarsku. (1)Swak dissipline is weens ‘n band van wantroue met myself, (2)’n onveilige gevoel weens wantroue verseker dat ek nie my eie oordeel kan vertrou nie, en baar (3)disrespek wat gebore word uit my rebellie, m.a.w. ek (4)blameer eerder betrokke individue weens my onvermoë om die LOST verhoudingstaal te dupliseer.

Die belangrikheid van ‘n gebalanseerde visie wat uitgeleef word in ‘n onvoorwaardelike verhoudingstaal is van onskatbare waarde. Daardeur herstel ons stap vir stap ons emosionele leemtes. Na afloop van die bogenoemde oorsig van jou emosionele DNA, kom ons begin om al vyf verhoudingsareas te balanseer waarin jy emosionele leemtes ervaar. Daarom is dit belangrik om die samestelling van jou verhoudingsareas te verstaan en die rol wat elke area in jou verhoudingstaal speel.

Volledige inligting is beskikbaar op ons DVD reeks – ‘Ontdek jou emosionele DNA’.

 

© Kopiereg LOST 2018. Alle Regte Voorbehou.
Geen artikel of foto mag gedupliseer of gepubliseer word sonder die toestemming van LOST.